Gerda het grootgeword op ’n klein plaas naby Bronkhorstspruit. Haar ma, bekend as Ouma Rooi, se ma, Ouma Nettie, het by hulle gebly en het dikwels stories gedeel oor haar ervarings in die konsentrasiekamp te Irene. Ouma Nettie en Ouma Rooi was vir Gerda die perfekte voorbeeld van ’n ma-dogterverhouding, vriendskap en omgee.
Ouma Rooi was ’n sterk vrou wat die klein boerdery alleen hanteer het terwyl haar man by ’n myn gewerk het. Sy was vaardig in ’n verskeidenheid take soos mielies plant, die groentetuin natlei, koeie melk, perdry, en die bak van koekies, koeke en koeksisters. Sy het ook gehekel en gebrei, gehelp met opstelle en somme, en was tegelykertyd ’n huisvrou, suster, mamma en ouma. Die enigste ding wat sy nie kon doen nie, was om niks te doen nie. Niemand sal ooit in haar skoene kan staan nie.
Na die afsterwe van haar ma in 2006, het Gerda haar klein koeksisterbakkery na haar vernoem. Vandag is sy trots om as stigter, eienaar en Ouma Rooi van Ouma Rooi Koeksisters bekend te staan. Nadat sy haar restaurant moes verkoop in 2014 as gevolg van ’n personeelstaking, het sy haar koeksisterbakkery as enigste bron van inkomste gehad. Met harde werk en groot genade kon sy haar besigheid uitbrei. Die wen van die Huletts koeksisterkompetisie op 5 Julie 2014 het dit vir haar moontlik gemaak om ’n goed geleë perseel vir haar bakkery te huur. Haar deelname aan die eerste Koekedoorreeks op KykNet het haar verder TV-blootstelling gegee. Alhoewel sy nie die wenner van die reeks was nie, het sy ’n toekoms as die bakster van die bekendste koeksister in die land gewen.
Vandag is Gerda die eienaar, bestuurder en deel van die dag-tot-dag bedryf van haar bakkery. Sy is sover moontlik elke dag in die bakkery betrokke, help met beplanning, haakplekke uitsorteer en motiveer haar mede-werkers. By haar bakkery werk niemand onder iemand nie; hulle werk op een vlak saam. Sy bemark haar produkte waar sy kan, veral op sosiale media, TV en gemeenskapsradiostasies. Gerda probeer ’n voorbeeld vir haar kinders wees deur volharding, moed en blymoedigheid te toon in die nastreef van drome.